Leerders moet te alle tye voldoen aan die voorskrifte vir skooldrag, persoonlike voorkoms en gedrag soos bepaal deur die skoolhoof in medewerking met die personeel en Beheerliggaam. Oortreding of verontagsaming hiervan stel sodanige leerder bloot aan strafmaatreëls wat deur die skoolhoof, ooreenkomstig relevante wetgewing, toegepas of gemagtig mag word...
 
Gedurende skoolure mag 'n leerder nie uit 'n klas afwesig wees of die skoolterrein verlaat sonder die skoolhoof of sy gevolmagtigde se verlof nie. Indien 'n leerder vir 'n tydperk van een skooldag of langer afwesig was, moet die rede vir afwesigheid skriftelik deur die ouer / voog verstrek word...
 
Die dra van die amptelike skooldrag is verpligtend vir skoolbywoning, skoolfunksies en georganiseerde skooltoere of uitstappies, tensy anders gereël vir besondere geleenthede en omstandighede..
 
Ordelikheid, stiptelikheid en stilte word vereis wanneer leerders aantree en verdaag, van lokale of geboue verwissel, of daarin beweeg. Spesifieke voorskrifte ter handhawing hiervan kan van tyd tot tyd neergelê of gewysig word..
 
'n Leerder mag nie 'n medeleerder se liggaamlike welsyn benadeel of in gevaar stel nie. Daarom mag 'n leerder ook nooit wapens, speelgoed of stowwe wat liggaamlike leed kan veroorsaak, in sy / haar besit hê nie...
 
Skooleiendom, of enigiets by die skool wat die eiendom van iemand anders is, mag nie beskadig, ontsier of besoedel word nie...
 
Die gebruik van, besit van, of kontrole oor alkoholiese drank, enige vorm of bestanddeel van dwelmmiddels, pornografiese leesstof of materiaal is te alle tye ten strengste verbode..
 
Geriewe en toerusting van die skool, insluitende die vir sport, mag buite skool-ure slegs met die toestemming van die skoolhoof of sy gevolmagtigde gebruik word..
 
Wanneer 'n leerder vrywillig by 'n buitemuurse skoolbedrywigheid aansluit, moet die verpligtinge en verantwoordelikhede in verband daarmee nagekom word, tensy die skoolhoof vrystelling verleen...
 
'n Leerder mag nie sonder die toestemming van die skoolhoof of sy gevolmagtigde 'n selfaangedrewe voertuig op die skoolterrein bestuur of parkeer nie.